Rekordjaar vir tafeldruiwe voorspel

Nadat tafeldruifboere die afgelope seisoen ’n rekord-oes bemark het, voorspel die SA Tafeldruifprodusentevereniging (SATI) in sy oesskatting dat die komende seisoen wéér ’n rekord sal wees.

“Vir die eerste keer sedert deregulasie behoort ons meer as 60 miljoen 4,5kg ekwivalent kartonne druiwe te bemark,” sê me. Rhomona Gounden, kommunikasie- en bemarkingshoof by SATI.

Gounden skryf die enorme oes van die 2014-’15 seisoen toe aan die uitstekende weersomstandighede wat die bedryf beleef het. “Om van net meer as 50 miljoen 4,5kg ekwivalent kartonne in 2013-’14, tot 58,5 miljoen te groei in een jaar, klink astronomies, maar daar moet ingedagte gehou word dat 2013-’14 ’n uitsonderlike moeilike jaar was weens ongunstige weersomstandighede,” sê Gounden.

SATI het onlangs hul amptelike oesskatting bekend gemaak en daarin voorspel dat daar tussen 61,3 en 63,2 miljoen 4,5kg ekwivalent kartonne in die komende seisoen geoes gaan word. “Die goeie groei in produksie kan toegeskryf word aan goeie kultivars, ’n toename in aangeplante hektare en goeie bestuurspraktyke.

Oor die afgelope drie jaar is meer as 2 700 ha nuwe druiwe aangeplant om die totale hektare op 18 212 te staan te bring.

’n Hele aantal kleiner boerderye is by groter landgoedere ingesluit en hul produksie het aansienlik oor die afgelope paar jaar verbeter. Derdens is daar ’n sterk ommeswaai van verouderde variëteite na die nuwe, saadlose druiwekultivars wat hoër produksie-potensiaal het en makliker is om te verpak,” sê Gounden.

SATI voorspel die grootste produksie toename vir die komende seisoen teen die Oranjerivier waar jong aanplantings steeds in volle drag moet kom. “Dit is nog vroeg in die seisoen en daar is baie wat verkeerd kan loop, maar al die produksie streke se wingerde lyk goed en ons is vol moed en glo dat dit ’n goeie jaar is wat op produsente wag,” sê Gounden.

Rekordjaar vir tafeldruiwe

“Vir die eerste keer sedert deregulasie behoort ons meer as 60 miljoen 4,5kg ekwivalent kartonne druiwe te bemark,”

Pitto Kakamas